
Soek en vind paaseiers by Taalmonument
Soek en vind paaseiers by Taalmonument
Speelparke, speletjies en pieknieks beloof om almal gelukkig te hou
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) is op SATERDAGOGGEND, 19 APRIL 2025, die perfekte plek vir paaseiers, pieknieks en pryse! Met die paashaas wat oornag eiers en kleurvolle items wegsteek, kan oud en jonk, maar veral jonk, seker weet dat ’n prettige soektog in die pragtige tuine van die monument op hulle wag.
Naas die gratis paaseiers (bring mandjies) is talle pryse ook tussen 09:00 en 12:00 op die spel. Boonop is daar speelparke, kunsvlyt en buitelugspeletjies wat korte mette sal maak met kinders se sjokolade-energie terwyl familie en vriende rustig die monumentale beeldhouwerk kan besigtig.
Besoekers is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ʼn piekniekmandjie by die Suikerkan via 082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – hierdie bistro sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop.
Die toegangsprys is slegs R40 per volwassene, R10 per kind en GRATIS vir jaarpermithouers. Kaartjies is beskikbaar op quicket.co.za of by die hek, maar in laasgenoemde geval is voorafbespreking via 021 863 0543/076 017 6026 of kommunikasie@taalmuseum.co.za noodsaaklik sodat die ATM vir die spesifieke getal kinders voorsiening kan maak.
- Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook/Instagram. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die koffiewinkel bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte, kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 856 1871.