Orion lok sterrekykers, piekniekgangers

Orion lok sterrekykers, piekniekgangers

338 338 people viewed this event.

Orion lok sterrekykers, piekniekgangers

Inwoners en besoekers sal die skitterende sterrehemel – spesifiek die sprankelende Orion – van nader leer ken tydens die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se Sterrekykpiekniek op Paarlberg op VRYDAG, 24 JANUARIE 2025. Dit beloof om ʼn feestelike aand in die beeldskone omgewing te wees; boonop is ʼn pragtige sonsondergang en ʼn gratis besoek aan die ikoniese beeldhouwerk ingesluit, én is die aand ten bate van ʼn goeie saak.

Gaste sal die heelal verken met behulp van Orion Observasie Groep (OOG) se lede wat graag hul kennis en teleskope gratis deel. Alle oë is gerig op die groot Orionnewel, ‘n emissie-newel (ruimtestof, waterstof, helium en ander geïoniseerde gasse) waarvan die middelpunt soos ‘n vlinder lyk. Dit is suid van die sterrebeeld en is maklik met die blote oog sigbaar as ‘n dowwe witterige kol in die middel van Orion se gordel.

Die pieknieks is gewild onder plaaslike inwoners en oorsese besoekers wat veral die mooie vergesigte van die valleie, berge en skiereiland geniet. Besoekers is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ʼn piekniekmandjie by die Suikerkan via 082 216 2510/082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – hierdie bistro sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop.

Hekke open om 18:00 waarna besoekers van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die hemelruim kan tuur. Gaste word aangemoedig om die omgewing en uitstallings te verken en die monument – ʼn simboliekbelaaide beeldhouwerk sonder weerga – te besigtig. ʼn Gratis begeleide toer om dit alles te verduidelik, vind om 18:30 plaas. Daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Onthou asseblief verkykers en warm kleding. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die ATM se geletterdheidsprojek vir kinders, derhalwe word piekniekgangers gevra om nuwe of tweedehandse kinderboeke te skenk.

Die toegangsprys is slegs R55 per volwassene en R15 vir onder-18’s/pensioenarisse – koop so gou moontlik op quicket.co.za. Kaartjies sal ook by die hek verkoop word, maar dan is voorafbespreking (021 863 0543/4809 of kommunikasie@taalmuseum.co.za) noodsaaklik sodat daar vir genoeg teleskope voorsiening gemaak word. Sterrekykpieknieks sal helaas gekanselleer word indien die weer nie saamspeel nie – skakel 073 853 3100 of 083 544 6510 vir weernavrae op die dag self. Voorafgekoopte kaartjies kan oorgedra of vergoed word. Die volgende sterrekykpieknieks is op 22 Februarie en 29 Maart. Meer oor OOG by facebook.com/OrionObservasieGroep

 

 

Om te registreer, epos jou besonderhede na kommunikasie2@taalmuseum.co.za

Registreer met webpos: Gmail / AOL / Yahoo / Outlook

 

Datum en tyd

2025-01-24 @ 06:00 NM to
2025-01-24 @ 10:30 NM

Deel met vriende