Lekker lui laatmiddag met jazz en piekniek
Lekker lui laatmiddag met jazz en piekniek
Don Vino, Gowar en ander sterre wink by Taalmonument
As deel van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se 50ste feesvieringe, huldig die instelling weereens die ryk Suid-Afrikaanse en inderdaad Afrika-jazztradisie tydens ’n soel someraand met magiese musiek, perfekte pieknieks en ongelooflike vergesigte . Op SATERDAG, 1 MAART 2025, sal besoekers die kragtige klanke van saxofoonspeler Don Vino (Prins), baskitaarspeler Chadleigh Gowar asook die sanger-pianiste Melorie Jane en Amanda Tiffen in lewende lywe kan ervaar terwyl die son agter die monument wegkwyn.
Die hoog aangeskrewe Kapenaar Vino het al verhoë gedeel met plaaslike en buitelandse internasionale sterre – nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in onder meer die VSA en VK – terwyl die talentvolle Gowar, Jane en Tiffen die afgelope jare die plaaslike jazz-landskap gaande het. Saam verteenwoordig die kunstenaars dekades se ervaring en sluit hul wye verskeidenheid musiekstyle boonop ook unieke Afrikaanse liedjies in.
Die hekke open reeds om 17:00 waarna kinders in die tuine en speelparke kan baljaar terwyl gaste aangemoedig word om die omgewing, inheemse tuine en die simboliekgelaaide beeldhouwerk te verken. Om 18:00 sal die musiek en kuier in alle erns wegspring voordat die laaste note om 21:00 tot stilte kom.
Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf piekniekmandjies by die Suikerkan via 082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – dié bistro sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Onthou warm klere en ’n flits; genoeg parkering is beskikbaar.
Kaartjies is slegs R180 per persoon en beskikbaar by quicket.co.za of die hek. Vir inligting, kontak Stefanie Rasztabiga op 021 863 0543 of kommunikasie@taalmuseum.co.za. Volg die kunstenaars op hul sosiale media- en klankkanale.
- Vir inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek co.za, teken in op die nuusbrief of volg hulle op Facebook/Instagram. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte, kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 856 1871.