Met die vestiging van die verversingspos aan die Kaap was dit slegs vier jaar sedert die sluiting van die Vrede van Westfale wat die Dertigjarige Oorlog (1618-1648) in Europa beëindig het. Inwoners van die Duitssprekende gebiede het gevlug van die verwoesting wat deur die oorlog veroorsaak is en onder meer in Nederland ’n heenkome gevind. Nederland kon nie self in die personeelbehoeftes van die VOC voorsien nie en daarom is Duitsers, Skandinawiërs en ander buitelanders ook deur die kompanjie in diens geneem. Baie van hierdie Duitsers was ongeletterde of halfgeletterde plattelanders wat as soldate of matrose vir die VOC gewerk het (Die Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika H Giliomee en B Bengu Tafelberg uitgewers 2007: 47).
Van hierdie Duitsers het uiteindelik as vryburgers aan die Kaap ’n nuwe begin gemaak nadat hulle uit die VOC se diens getree het. Teen 1671 het die oorspronklike verversingstasie wat deur die VOC bestuur is – en veronderstel was om slegs skepe te bedien en die siekes te versorg – egter ‘n Nederlandse nedersetting geword. Dit was nie meer net ‘n werkplek vir Nederlanders wat in die VOC se behoeftes voorsien het nie, maar ‘n nuwe kolonie wat geleenthede vir immigrante uit ander lande gebied het. Dit het die plaaslike taalpoel uitgebrei, aldus Christo van Rensburg (So Kry ons Afrikaans Lapa Uitgewers 2012:34).
Duitse immigrante verafrikaans só
In die tydperk voor 1800 was 35% van die Europeërs aan die Kaap van Duitse afkoms. Hoewel die meerderheid Kompanjiesamptenare, offisiere en soldate van die Kaapse garnisoen asook dokters en aptekers Duits was in 1763, het daar min direkte spore van Duitse invloed op Afrikaans agtergebly. Die Duitse leenwoorde in Afrikaans het eerder indirek van Nederlands na Afrikaans ingesypel (Biografie van ‘n taal – Die storie van Afrikaans Uit Europa en van Afrika Deel 2 WAM Carstens en EH Raidt Protea Boekwinkel Pretoria 2019:103).
Duitsers wat Kaap toe gekom het, was meestal ongetroude immigrante of soldate van die VOC. Sommige het met Europese vroue getrou, maar talle het bruin en swart inwoners as lewensmaats gehad. Binne tien jaar na hul aankoms was hulle Kaaps-Nederlandssprekend en het hulle selfs hul vanne verafrikaans. Die Duitsers het nie ‘n kerk van hul eie gehad nie en was verplig om die VOC se voorskrifte ten opsigte van godsdiensbeoefening en taal te volg, aldus Biografie van ‘n taal – Die storie van Afrikaans. Die VOC het geensins probeer om die Duitsers se godsdiensoortuigings in ag te neem nie. Daar is eers in 1780 toestemming verleen vir die bou van ‘n Lutherse kerk en teen hierdie tyd was die taal en kerk van die Europeërs aan die Kaap reeds stewig gevestig. Dit verklaar ook waarom die Duitsers so vinnig opgeneem is in die Kaapse gemeenskap, meen H Giliomee en B Bengu.
Voorbeelde van Duitse woorde in Afrikaans
Minder as 10 Duitse leenwoorde in Afrikaans is aan direkte ontlening en persoonlike interaksies van Duitsers en Kapenaars toe te skryf. Die groot aantal Duitse leenwoorde wat wel in Afrikaans bestaan en deel vorm van die omgangstaal, het via die spesifieke Nederlands van die 1700’s en 1800’s in Afrikaans gevestig geraak. Direkte ontlenings aan Duits (aan die soldatetaal van die 1600’s) is liederlik, swap, swernoter, sweis, verfoes en werskaf. Duitse leenwoorde soos blas, blits en pets is reeds voor 1650 in Nederlands oorgeneem. Die meeste Duitse leenwoorde en leenvertalings in Afrikaans was reeds in die 1700’s en 1800’s ingeburger en via Nederlands na die Kaap gebring. Dit sluit aandag, afhandel, baanbreker, beledig, beroemd, bespreek, bewonder, bolmakiesie, bydrae, eensaam, eienaardig, indruk, kietsie, koeël, lewensgevaarlik, opval, piekfyn, poedelnaak, selfsug, skelm, vervlaks, waks en wiks in (Biografie van ‘n taal – Die storie van Afrikaans).
Ter afsluiting – ‘n interessante studie bestaan oor Duitse musikante aan die Kaap. Volgens SJ Jooste (Duitse Blaasmusikante aan die Kaap in die 17de en 18de eeu SA Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis 1991:160) was blaasmusikante vanaf die beginjare van die VOC in die Kaap teenwoordig, en sedert 1656 word die name van verskeie blasers in diens van die VOC in monsterrolle vermeld. Duitse trompetters was gedurende die 1600’s by die Kasteel werksaam, en in die 1700’s het die getal Duitse blasers so toegeneem dat die groot meerderheid trompetters en pypers van die Kaapse garnisoen van Duitse afkoms was. Benewens hierdie VOC-amptenare het ander Duitse blaasmusikante hulle ook aan die Kaap bevind, onder andere orkeslede van verskeie vreemde regimente, soos die regimente van Wurttemberg en Luxemburg wat in die laaste kwart van die 1700’s in die Kaap gestasioneer was. Onder die burgerlike musikante was enkele Duitse musiekonderwysers waarvan sommige blaasinstrumentonderrig gegee het. Hierdie het ook byval gevind by die Duitse sendingstasies en aanleiding gegee tot die tradisie van die basuinkore wat vandag nog op sommige ou sendingstasies aanwesig is. – Chantelle de Kock, kurator, ATM
Bronne:
Duitse Blaasmusikante aan die Kaap in die 17de en 18de eeu SJ Jooste SA Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis 1991
Biografie van ‘n taal – Die storie van Afrikaans Deel 1 WAM Carstens en EH Raidt Protea Boekwinkel Pretoria 2019
Die storie van Afrikaans Uit Europa en van Afrika Deel 2 WAM Carstens en EH Raidt Protea Boekwinkel Pretoria 2019
So Kry ons Afrikaans C van Rensburg Lapa Uitgewers 2012
Die Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika H Giliomee en B Bengu Tafelberg uitgewers 2007: 47