Die wastafels wat was

by | Jun 18, 2021 | Afrikaans tuisblad, Algemene inligting, Argief

Voor moderne badkamers soos wat ons dit vandag ken, was die wastafel met ʼn kom en waterbeker algemeen in gebruik vir persoonlike higiëne. Wastafels was reeds in die 1500’s bekend, maar dis veral in die 1800’s en vroeë 1900’s wat dit algemeen in gebruik was.

ʼn Wastafel was gewoonlik ʼn meulbelstuk – ʼn klein tafel of kabinet – wat in die slaapkamer gestaan het aangesien daar nie binnenshuise badkamers was soos deesdae nie. Tydens die 1800’s was dit van onder meer mahonie-, okkerneut- of rooshout gemaak. Met die aanvang van die 1800’s het die idee van persoonlike netheid en higiëne posgevat en het die eens eenvoudige wastafel al hoe belangriker geword. Later het wastafels ook marmerblaaie gekry wat meer duursaam was as hout.  

Die wastafel het ruimte gehad vir ʼn waskom en ʼn plek vir die waterbeker.  Daar was ook ruimte gelaat vir seephouers en spieëls. Die tafels kon een blad of dubbelblaaie hê en daar was ʼn handdoekreling langs die kant.

Die wastafels het uit die mode geraak in die 1930’s, maar daar is steeds mooi voorbeelde van hulle in die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl. Kom kyk gerus of sien www.taalmuseum.co.za vir meer inligting.