Die Noord-Kaap se geskiedenis strek oor duisende jare en die natuurlike en kulturele landskappe is onlosmaaklik verweef. Daarom het die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) sedert 2008 gewerk aan ʼn Noord-Kaap mondelinge oorleweringsprojek om die histories gemarginaliseerde Gariepafrikaans-variëteit en lankvergete leefwyses, vervat in talle verhale, op te teken. Stories wat reeds op sosiale media geplaas is, sluit in ‘Spookstories’ en ook verhale oor die ‘Waterslang’.
Van die stories wat in die Noord-Kaap aangetref is, sluit die gebruik van plante met medisinale waarde in. Ons vier dié inheemse kennis van die natuurlike omgewing, en die lewende erfenis wat die gebruike van plante met medisinale waarde insluit, hierdie Erfenismaand. Die dorpe waar interessante stories oor plantgebruike ingewin is, is Kameelmond, Petrusville, Philipstown, Griekwastad, Garies, Daniëlskuil, Jankempdorp, Tweerivier, Rooifontein, Nourivier en Leliefontein.
In die omgewing van Kameelmond is daar raad met waterpokkies en masels – maar dis nie vir sissies nie! Die storie werk so: “Daar moet houtjies opgetel word, en dan word bokdrolle in ʼn potjie met water gekook waarna dit deur ʼn sif gegooi word. Dan moet die aftreksel gedrink word sonder om ʼn lelike gesig te trek. As jy dit nie doen nie, kry jy dalk net ʼn pakslae met ʼn donkieplak!” Dit is nie net in Kameelmond wat hierdie raat gebruik word nie, maar in Tweerivier het informante ook aangedui dat dit vir koors en masels gebruik word. Nog ʼn raat was dat jy nie moet nat word as jy masels het nie; ook moet die sieke in ʼn donker kamer gehou word vir agt dae – en in daardie tyd moet daar bekers vol bokdrol-aftreksel gedrink word…
Die gebruik van kankerbossies is vermeld in Petrusville, Philipstown en Griekwastad. Volgens die stories wat vertel is, het dit ’n hele paar gebruike soos vir bloeddruk, verkoues en alle tipes maagkwale. Dit word beskou as goeie medisyne vir diabetes. Dit is egter baie bitter. Wilde karmedik (koorsbossie) en wildeals help blykbaar weer vir verkoue, koors, diarree en hoë bloeddruk.
Dan is daar by Petrusville “jongmeidblaar” wat met karmedik gemeng word vir vrugbaarheid. Die informant se woorde was “dis rêrig nie lank nie dan is daai antie swanger. Want sy’t daai plante gebruik. Dit is eintlik ’n goeie krui.” Dan is daar ook raad vir krampe by jongmeisies. Blykbaar is vrouekruie (yarrow) geskik daarvoor, want volgens die verteller verdun dit die bloed en dit verlig die pyn.
Daniëlskuil se mense glo aan wildeals vir verkoue. Dit word op kookwater getrek en soos tee gedrink. Varkbos is ook ʼn raat wat werk vir verkoue. Volgens die verteller word die blare gedroog en dan in ʼn beenpyp gerook. In Garies gebruik die mense kankerbos (ook belbos, jantjiebarend, gansies, rooikeurtjie en kalkoentjiebos genoem). bloublomsalie en ysterhoutblare saam om verkoue te behandel. Dis baie bitter, maar dit help. Vir maagpyn word die kombersplant gebruik. Voëlent (litjiestee) is ʼn ou raat vir diarree, vroue probleme en asma.
Tweerivier se mense glo dassiepis is goed vir maagpyn en klipsweet help met winde. Wildeals en kattekruie help vir borskwale. Jantjiebarend help vir griep. Fonteinbos help met inflammasie en winde. Kattekruie gebruik jy vir ’n borsaandoening. Terloops, die Khoekhoen het dit oorspronklik ook gebruik vir masels en koors. “Witvergeet”-wortel word gekou vir winde. In Rooifontein gebruik mense kalkoentjiebos, kraaibos, kooigoed, aambeibos (ook bitterbossie genoem), klipsweet en dassiepis vir skete en kwale. Leliefontein se mense beveel nettabos aan vir maagpyn. As ʼn kind koorsig is, kan alsblare op ʼn lap gesit word en asyn bo oor gegooi word waarna die lap dan op die kind se maag gesit word om die koors te verlig.
Interessante stories en pragtige name vir plante is kenmerkend van die Noord-Kaap en Namakwaland. Dalk is daar nog stories wat vir ons gestuur kan word om opgeneem te word in ons argief. As jy van enige weet, kontak die ATM se kurator. Sien taalmuseum.co.za vir besonderhede. Foto: Wilde karmedik (koorsbossie)