ATM praat met taalgenote in Lae Lande

by | Des 5, 2023 | Afrikaans tuisblad, Algemene inligting

Verteenwoordigers van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het in September 2023 die Europese Lae Lande besoek om inligting uit te ruil met taalgenote en oor onder meer dekolonialisering, stigmas, moedertale en geletterdheid te praat. MICHAEL JONAS, direkteur, en adv JEAN MEIRING, raadsvoorsitter, het aan SYBRANDUS ADEMA, kommunikasiehoof, beskryf hoe die positiewe reaksie ‘n teken is dat daar verdere ruimte is om Afrikaans te internasionaliseer.

DIE toer het afgeskop met ‘n besoek aan Angelie Sens, direkteur van Zuid-Afrikahuis in Amsterdam. Hierdie by tye omstrede kennisinstituut fokus al vir ’n honderd jaar op die taal, kultuur en geskiedenis van Suid-Afrika en huisves die grootste versameling Suid-Afrikaanse (vak)literatuur in Europa. “Ons het ‘n openhartige gesprek gehad rakende hul werksaamhede en hoe hulle telkens apartheid probeer verdedig het,” sê Jonas. “Voorts het ons strategieë uitgeruil oor die transformasie van beide instellings se beelde en hoe om relevant te bly in ‘n snelveranderende wêreld.”

Zuid-Afrikahuis, waarvan die wortels na ’n 1881-vereniging strek, het staatsbefondsing bekom vir nuwe projekte en publikasie-aankope om die diverse aard van Nederlands, onder meer Afrikaans, te belig. Verder verbreed hulle hul versameling met Engelstalige publikasies uit Suid-Afrika om meer perspektiewe toegankliker te maak vir groter gehore. “Hulle het ook al meer ervaring as ons met die digitalisering van hul versameling en dienste,” verduidelik Jonas. “Ons het gesprekke gevoer oor moontlike samewerking in die nabye toekoms wat reeds vrugte afgewerp het met ‘n opvolgbesoek deur Sens en Jan Schinkelshoek, voorsitter van Stichting Zuid-Afrikahuis, aan die Taalmonument op 12 Oktober 2023.”

In Arnhem het Jonas gedagtes uitgeruil met Kenniscentrum Immaterieel Erfgoed Nederland (KIEN) se hoof, Saskia van Oostveen, koördineerder van kennisontwikkeling, Susanne Verburg, asook koloniale verlede-navorser Marlous van den Akker. Dié indrukwekkende, lewendige en uitgebreide museum implementeer sedert 2012 die Unesco 2003-konvensie waardeur deelname aan ontasbare erfenispraktyke bevorder en kennis daaroor verhoog word. Hierdie erfenis word voortdurend hervorm in verband met maatskaplike veranderinge en in interaksie met die sosiale omgewing en van geslag tot geslag oorgedra.  Volgens Jonas is die belang van taal vir kultuuroordrag en identiteitsvorming breedvoerig bespreek. “Ons het ook onderneem dat personeel van beide instellings toekomstige virtuele platforms sal gebruik om gemeenskaplike vraagstukke soos kopiereg, gemeenskapsbetrokkenheid asook die gedeelde erfenis tussen Suid-Afrika en Nederland te bespreek.”

Dit is opgevolg met ‘n gesprek met een van die talle Nederlanders wat ’n groter liefde vir Afrikaans onder Nederlanders kweek, Joris Cornelissen van VECTIS. Nie net is hy die stigter van die ‘Festival voor het Afrikaans’ in Nederland – ’n meerdaagse fees waar Afrikaans gevier en aan ‘n Europese gehoor vertoon word danksy musiek, teater, film, letterkunde en poësie – nie, maar via die organisasie word Nederlandse leerders op ’n prettige manier aan Afrikaans bekendgestel. Deur die taalverwantskap as hefboom vir samewerking te gebruik, word die diversiteit en inklusiwiteit van die taal belig deur digitale lesbriewe in skole in Nederland, Vlaandere, Suriname, Aruba en Curaçao. “Ook hier het ons gesels oor wat ons saam kan doen om jong Nederlandstaliges opgewonde oor Afrikaans in al sy gedaantes te maak,” sê Jonas.

In Leiden het Katrien Depuydt en Nicoline van der Sijs, verteenwoordigers van die Instituut voor de Nederlandse Taal (IVDNT), gepraat oor die jongste verwikkelinge rakende taalnavorsing en hoe digitale programmatuur oneindige opsies vir woordeboeke en gebruikers inhou. Die wyd toeganklike wetenskaplike instituut bestudeer en beskryf alle aspekte van die Nederlandse taal deur die eeue heen, insluitend woordeskat, grammatika en taalvariasie.

“Ons sal voorstelle ondersoek hoe die Nederlandse Taalunie (Afrikaans vorm nie deel daarvan nie) en Suid-Afrikaanse kundiges ons met die digitalisering van Afrikaanse stoflike kultuur kan help,” sê Jonas. “Digitalisering kan moontlik ʼn sentrale tema wees vir ʼn toekomstige taalsimposium met die ander fokuslande soos Indonesië en Suriname, wat dan ook Arabiese Afrikaans en die ander weergawes van Nederlands insluit.

By die historiese Kasteel Muiderslot oos van Amsterdam het Irma Enklaar, onderwys- en skakelhoof, oor hul spesifieke uitdagings rakende befondsing, klimaatsverandering, besoekersgetalle en geskiedkundige herinterpretasie van wie hulle is en wat hulle wil bereik uitgewei. Aangesien dit ook kwessies is waarmee die ATM gekonfronteer word, was dit ’n vrugbare gesprek oor moderne museumkunde en groter inklusiwiteit. “Hierdie instelling het baie in gemeen met die ATM,” meen Jonas. “Ook danksy hul strategieë om die  volhoubaarheid van die instelling in terme van die omgewing, gemeenskapsbetrokkenheid en finansiële welstand te verseker, nes ons.” Muiderslot is in 1285 gebou en sedert 1878 ‘n nasionale museum met onder meer permanente en tydelike uitstallings, opvoedingsgeleenthede vir leerders en groentetuin vir die gemeenskap.

DutchCulture in Amsterdam ondersteun die Nederlandse kulturele en skeppende sektor, openbare owerhede en diplomatieke poste in die nastrewing van hul internasionale ambisies. Josine Backus, raadgewer vir Suid-Afrika, het ’n oorsig oor die Nederlandse internasionale kultuurbelangstellings gegee en hoe DutchCulture, danksy befondsing van die Europese Unie en Nederlandse regering, raad kan gee oor hoe byvoorbeeld Nederlandse en Suid-Afrikaanse organisasies kan saamwerk om geld vir spesifieke kulturele projekte te bekom. Volgens Jonas het hulle idees gewissel oor hoe daar, in die lig van die beplanning van die ATM se 50ste bestaansjaarviering in 2025, geskakel kan word met ander fokuslande asook die Nederlandse ambassade. “Ons kan ook via DutchCulture kyk na vennote vir projekte soos taalherlewing en -bevordering, geolekte en digitalisering.”

Ook in Amsterdam het die Stichting Lezen se Adriaan Langendonk, bestuurder vir nasionale leesbevorderingsprogramme, ’n interessante oorsig oor die agteruitgang van leesvaardighede in Nederland, en die redes daarvoor, gegee. Die stigting help ​​kinders om die vreugde van lees te ontdek sodat hulle tot permanente lesers kan groei. Hul omvattende gedrukte en aanlynmateriaal stimuleer leesvaardighede vanaf peuters tot hoërskoolleerders omdat goeie leesvaardighede die sleutel tot goeie opleiding en bemagtiging is. “Gegewe die ATM se eie geletterdheidsprojek, ‘Laat ons Lees’, is daar hopelik ruimte om in die toekoms saam te werk om Afrikaanse geletterdheid in veral plattelandse omgewings te verskerp,” reken Jonas. “Wat opvallend is, is die stigting se noue skakeling met talle vennote soos opvoedkundige instellings, maatskaplike dienste en munisipaliteite wat almal insette lewer om leesvaardighede te verskerp.”

In Den Haag het Meiring met Bertram Mourits, die hoof van versamelings van die Literatuurmuseum en Kinderboekenmuseum, vergader. Hierdie organisasie se missie is om die krag van letterkunde en die rykdom van die Nederlandse literêre erfenis sigbaar en tasbaar te maak. In dieselfde stad het Lidwien Jansen en ander kollegas Meiring by die Nationaal Archief, die land se grootste argief, verwelkom waar byna ’n duisend jaar van die Nederlandse geskiedenis gestoor word in 142 kilometer se dokumente en 800 teragrepe se digitale lêers. Die instelling se fokus is op die navorsing, ervaring en argivering van die historiese en kulturele nalatenskap van Nederland en sy voormalige kolonies.

“By albei is ek uiters gul ontvang,” het Meiring opgemerk. “Daar is duidelik baie gemeen tussen ons drie instellings, en die gesprek wat van stapel gegaan het, sal hopelik tot nouer bande lei. Die een onderwerp wat telkens te berde gekom het, is natuurlik digitalisering, waar ons Nederlandse kollegas ons ver vooruit is.”

Tydens ’n tipiese Nederlandse ‘borrel’ (skemerkelkies en versnaperinge) het die ATM op ‘n informele vlak met verteenwoordigers asook die Suid-Afrikaanse gemeenskap in Nederland gedagtes uitgeruil oor toenemende samewerking en om meer internasionale belangstelling in Afrikaans en Suid-Afrikaanse tale te prikkel.

In België het Jonas, vergesel van die Afrikaansfundi prof Wannie Carstens, die Koninklijke Academie voor Nederlandse Taal en Letteren (KANTL) in Gent besoek waar die direkteur, Judith van Doorseleer, en permanente sekretaris, Jacques van Keymeulen, hulle ontvang het. Die akademie moedig die studie, beoefening en bloei van die Nederlandse taal en letterkunde, in haar wydste sin moontlik, aan. “Hulle het ons die ondersteuning gegee om vir ons vieringe in 2025 ‘n versameling van 50 wesentlike Afrikaanse literêre werke saam te stel, soortgelyk aan hul Nederlandse ‘literaire canon’,” het Jonas bekendgemaak.

Ook in Gent het hy vergader met die direkteur, Willy Tibergien, en bibliotekaris Stefaan Goossens van die uitsonderlike Poëziecentrum. Hierdie sentrum roem hom daarop synde dié kennis- en kundigheidsentrum in Vlaandere en Nederland vir Nederlandse poësie, buitelandse poësie in Nederlandse vertaling, Nederlandse poësie vertaal in ander tale en Suid-Afrikaanse poësie. Die uitgebreide versameling en breë werking is uniek in die hele taalgebied; boonop beskik hulle oor die grootste Afrikaanse poësieversameling (insluitend onder meer die Ernst van Heerden-versameling) buite Suid-Afrika.

Op 28 November 2023 word die 25ste bestaansjaar van die versameling kleurryk gevier met spesiale bydraes van die Suid-Afrikaanse digter, Ronelda Kamfer, en prof. Marlene van Niekerk, tans bekleër van die Universiteit van Gent se Leerstoel Zuid-Afrika. Volgens Jonas het die instellings gesprekke gevoer oor toekomstige samewerking vir ‘n moontlike boekfees.

Wat die reis in totaliteit betref, het Jonas sy dank uitgespreek aan Ingrid Glorie, joernalis, vertaler en organiseerder van Festival voor het Afrikaans. “Sy speel ‘n groot rol in die opbouende interaksie tussen Afrikaans en Nederlands in al hul onderskeie gedaantes.”  – taalmuseum.co.za


Aanvullende inligting

zuidafrikahuis.nl
immaterieelerfgoed.nl
vectislingua.org
ivdnt.org
muiderslot.nl
lezen.nl
dutchculture.nl/en/country/ZA
literatuurmuseum.nl
nationaalarchief.nl
kantl.be
poeziecentrum.be
festivalvoorhetafrikaans.nl
ingridglorie.nl