Afrikaapse pêrels innie Paarl

by | Sep 13, 2019 | Afrikaans tuisblad, Argief

Taalmonument vier Erfenismaand met Blaq Pearl

Ek is ʼn Khoi ʼn San
Ek stap saam die maan – met wild in my hand
En ʼn dans – wat jou sit in ʼn trans
My voorgeslag kon reën maak,
Stories vertel – was woelag!

In aanloop tot Erfenisdag op 24 September 2019, is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) besonder bly om die kulturele aktivis Blaq Pearl se werk by die monument uit te stal.

Volgens Michael Jonas, ATM direkteur, is die instelling ʼn lewende monument waar daar gedurig ʼn interaksie tussen die struktuur, natuur, besoekers en taalskeppers is. “Ons gee graag aan opkomende skrywers, musikante en digters die kans om hul werk aan ʼn groter gehoor bloot te stel. Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van talle Afrikaanssprekende Afrikane.”

Blaq Pearl (Janine van Rooy-Overmeyer) tree gereeld by musiek- en poësieoptredes op, ook as storieverteller en motiveringspreker. Haar musikale genre omvou Afro/Soul/Hiphop/Jazz/R&B en sy word internasionaal erken vir haar optredes. Sy was onder meer in die rolverdeling van die bekroonde musiekproduksies, Afrikaaps en ‘n Plekkie in die Son. In 2011 is haar debuutalbum, Against All Odds, vrygestel en in 2015 het haar eerste selfgepubliseerde boek, Karadaaa!!! – ‘n versameling van haar poësie, stories en liedjies in Engels en Afrikaans – die lig gesien. In 2016 het sy die musiekproduksie Krotoa van Vandag voltooi, wat sy tot vandag toe nog by skole opvoer. Boonop is haar stigting, Blaqpearl Foundation, aktief besig om die kunste, lewensvaardighede, letterkunde en sport as mediums te gebruik om die veral die Kaapse Vlakte se jeug aan te moedig om weg te breek van die moeilike realiteite en sosiale probleme soos bendes, dwelmmisbruik asook tienerswangerskap en -ouerskap. Een van die projekte behels om meisies musiek-, ontwerp-, storievertel-, skeppende skryf- en dansvaardighede en geleenthede te bied; só leer hulle om te skep en om dit wat hulle skep te bevorder en te verkoop om sodoende hulself finansieel te onderhou.

Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery waar sy as in ’n rots ingemessel is, knus omring deur inheemse olienhout en graniet. ʼn Uitstalling van verskeie opkomende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus.

Die publiek kan Blaq Pearl se uitstalling vanaf 1 September tot eind Desember 2019 in die Groen Galery besigtig. Die monument, wat ook die beginpunt van die Paarl se Boomroete is, is daagliks oop van 08:00 tot 17:00. Toegang is R40 vir volwassenes, R10 vir SA studente/pensionarisse en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar). Oudiogidse in verskeie tale asook gratis begeleide toere is beskikbaar en die monument bied ook ’n speelpark vir kinders, staproetes en ’n heerlike restaurant.

Vir navrae oor die monument of om meer te wete te kom oor die talle gewilde geleenthede en afslagpryse, besoek www.taalmonument.co.za of www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Kontak die ATM op 021 863 0543/ 872 3441 of stuur ʼn e-pos na admin@taalmonument.co.za. Meer oor Blaq Pearl se stigting is te siene by www.blaqpearlfoundation.org.za