Kliek hier vir die pdf-weergawe asook voorlopige program
Kliek hier vir ’n registrasievorm
Agtergrond
Die departement Afrikaans & Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), in samewerking met die Skool vir Tale aan die Sol Plaatje Universiteit (SUP) in Kimberley, bied van 2 tot 3 November 2017 ’n konferensie aan oor die Noord-Kaapse Afrikaanse streektaal en –letterkundes. Dit is daarom gepas dat die konferensie gehou word op die kampus van dié Noord-Kaapse universiteit.
Ons beweegrede is dat Afrikaans as taal slegs kan gedy as alle Afrikanse variëteite gelyke status het, én as meer aandag aan al die variëteite van die taal bestee word as wat tans die geval is. Onderliggend is die standpunt dat die meeste sprekers van die taal uit die bruin gemeenskap kom, van wie talle uit plattelandse gebiede waar streektaalvorme besonder lewend is. Hierdie byeenkoms is dus ’n broodnodige geleentheid om hernude aandag te vestig op die verskeidenheid Afrikaanse taaluitings en kulturele vorme in die Noord-Kaap, asook om kwessies en uitdagings aan die orde te stel. Dit is die ideale geleentheid vir rolspelers, akademici, navorsers, kultuurwerkers en studente om opnuut te fokus op geleenthede en projekte wat kan lei tot die bewaring en uitbouing van die Afrikaanse taalerfenis.
Die doel van die konferensie is om bestek op te neem van bestaande navorsing oor die streektaalvorme en letterkundes in die Noord-Kaapse variëteit (-e) en om nuwe perspektiewe op die rol van dié streek in die Afrikaanse taal te belig. ’n Aantal vooraanstaande akademici sal voordragte lewer, terwyl skrywers, voordragkunstenaars, belanghebbendes in die kultuursektor en studente die geleentheid sal kry om hul stem te laat hoor in dié belangrike gesprekreeks.
Van die akademici wat aan die woord sal wees, is prof. Jacques van Keymeulen van die Universiteit Gent in België, wêreldbekende dialektoloog wat al baanbrekende studies oor die Wes-Vlaamse dialekte gedoen het. In sy voordrag werp hy nuwe lig op die ontwikkeling van Afrikaans deur dié taal met verskillende Nederlandse kusdialekte, waaronder Vlaams, te vergelyk. Die bekende taalkundige, prof. Christo van Rensburg, beantwoord in sy aanbieding die tergende vraag: Wat het van Khoi-Afrikaans geword?
Van die ander bydraes fokus op onder meer die uitdrukking en bewaring van die Noord- Kaapse kultuur en identiteit in die dig- en rapkuns, die herlewing van die riel, streeksletterkunde as meer as net nostalgie en ’n bestekopname van die Afrikaanse streekverhaal. Die leeskultuur van voorgraadse studente aan ’n Noord-Kaapse universiteit kom in die soeklig, terwyl onderskeidelik die taalgebruik van tieners in die Noord- en Wes-Kaap, en die verborge Katolieke wortels van Afrikaans in dié streek aan die orde kom. Etlike kundiges, kunstenaars en ander belanghebbendes kom deel hul kennis oor onder meer storievertel-, lees- en skryfprojekte.
Die doel is om uiteindelik ’n boek en/of artikels te publiseer sodat nuwe stukrag gegee kan word aan die studie van Noord-Kaapse taalvorme en letterkundes. Ons hoop dat meer kulturele produkte in die nabye toekoms hieruit sal voortspruit. Die geleentheid word ook aangebied as ’n afskeid van prof. Frank Hendricks wat aan die einde van 2017 aftree. Prof. Hendricks het hom in sy lang loopbaan onderskei as taalkundige van formaat en het verskeie toonaangewende publikasies die lig laat sien. Die mees onlangse boek is die essay-bundel Kaaps in fokus met nuwe perspektiewe op die Kaapse variëteit van Afrikaans. Hy werk die laaste tyd aan studies oor Oranjerivierafrikaans en sal by die konferensie ’n bundel met sy jongste taalkundige navorsing, getiteld Taalkundige essays – ‘n gerf uit die vroegskemer, bekendstel.