Wie ons is
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) is geleë in die Paarl, Wes-Kaap, Suid-Afrika. Die ATM is 'n semi-staat, nie-winsgewende instelling. Die museum en die administratiewe kantoor is in Pastorielaan en die monument is op Paarlberg.
Mandaat
Die destydse Minister van Opvoeding het kragtens die bevoegdheid aan hom verleen deur artikel 3 van die vorige Wet op Kulturele Inrigtings, 1969 (Wet 29 van 1969), die ATM, Paarl, tot ’n instelling verklaar wat met ingang van 1 Junie 1977 onder die bepalings van genoemde Wet val. Sedertdien is die Wet op Kulturele Inrigtings van 1969 met die Wet op Kulturele Instellings, (Wet 119 van 1998) vervang. Die ATM ontvang ʼn gedeeltelike jaarlikse subsidie van die Departement van Kuns en Kultuur.
Visie
Die visie van die ATM is om die nasionale Afrikaanse Taalmuseum en -monument só te bedryf dat Afrikaans so inklusief moontlik in sy volle omvang gerespekteer en waardeer kan word.
Missie
Die missie van die ATM is om:
- deur middel van Afrikaans, binne ’n konteks van veeltaligheid, verhoudinge met alle Suid-Afrikaners te bou
- toepaslike materiaal en inligting wat verband hou met die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans in te samel en te bewaar
- navorsing te doen wat die kennis oor Afrikaans sal verdiep en verbreed
- die ontstaan, ontwikkeling, nut en uitbou van Afrikaans uit te beeld en daardeur besoekersinteraksie te stimuleer
- blootstelling te gee aan die verskillende fasette van Afrikaans deur middel van lesings en publikasies
- Afrikaans landwyd op alle vlakke van die samelewing te bevorder en te stimuleer, soos deur die aanbied van opvoedkundige programme en kulturele aktiwiteite
- die ATM volgens gesonde finansiële beginsels te bestuur en om die ekonomies selfstandige bedryf daarvan na te streef
- besoekersgetalle te verhoog en fondse in te samel
- die ATM se kultuurhistoriese geboue en erfenisterreine en die erfenis van Afrikaans in stand te hou tot nut van besoekers
- met relevante instellings te skakel en vennootskappe te sluit.
Waardes
- Die ATM beywer hom vir die welstand van Afrikaans in die Suid-Afrikaanse samelewing.
- In hierdie gees wil ons Afrikaans veral onder die jeug en niemoedertaalsprekers aanmoedig en ondersteun.
- Ons poog deurlopend om wedersydse respek tussen Afrikaans en ander inheemse tale te bewerkstellig deur onder meer die wedersydse invloed van verskillende tale op mekaar te erken.
- Ons streef daarna om altyd openhartig en deursigtig te werk te gaan.
- Hoë standaarde word gehandhaaf in die opvoedkundige aanbiedings vir leerders en ander besoekersgroepe.
- Sterk klem word daarop gelê om binne die raamwerk van die toepaslike wetgewing en die neergelegde reëls en beleide op te tree.
- Om te oorleef en te floreer en terselfdertyd ’n hoë standaard van werkverrigting te behou, streef ons ’n hoë mate van integriteit, betroubaarheid, deursigtigheid en professionaliteit na.






