Website TemplatesJoomla TemplatesWeb Hosting
Hoeveel taalmonumente is daar in Suid-Afrika? (16.08.11)

Hoeveel taalmonumente is daar in Suid-Afrika?

MEDIAVRYSTELLING
Dinsdag 16 Augustus 2011
Geen embargo

Hoeveel taalmonumente in daar in Suid-Afrika? Dit is die vraag wat die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl graag wil beantwoord met ʼn nasionale opname.

Die ATM het al heelwat inligting ontvang sedert die afskop van die opname in Julie 2010 en is nou al bewus van 18 taalmonumente.

Enigeen wat oor verdere inligting oor hierdie of ander taalmonumente in Suid-Afrika beskik, kan vir Annemarie van Zyl kontak by tel. 021 8723441 of ʼn e-pos stuur na Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien .

Laai ’n pdf-weergawe van hierdie artikel af (mét foto's)

Burgersdorp, Oos-Kaap: Die oudste taalmonument in Suid-Afrika waarvan die ATM bewus is, staan op Burgerplein, Burgersdorp. GPS-koördinate: S 30º 59.632', O 26º 19.879'.

ʼn Vroulike figuur van wit Carrara-marmer staan op ʼn groot voetstuk. In haar linkerhand hou sy ʼn tablet waarop staan: “Vryheid voor de Hollandsche taal”.  Die taal waarvoor destyds geveg is, was Hollands, nie Afrikaans nie. Die Hollands wat deur die mense gepraat is, het egter op daardie stadium alreeds so ver van die oorspronklike taal afgewyk dat taalkundiges dit nie meer as ʼn variant van Hollands beskou het nie, maar as ’n nuwe taal, Afrikaans.  

Daar is verskeie ander inskripsies op marmerplate om die voetstuk van die beeld. Die monument is gebou deur SR Ogden. Ds SJ du Toit, bekende taalstryder, het as feesspreker opgetree tydens die onthulling op 18 Januarie 1893.

Die beeld is gedurende die Anglo-Boereoorlog deur vandale geskend, en ná die oorlog het Lord Milner dit in geheel laat verwyder. Die Burgersdorpers het hul monument teruggeëis, en aangesien die oorspronklike beeld nêrens opgespoor kon word nie, het die Britse regering in 1907 ʼn replika laat oprig. In 1939 is die vermiste beeld in King William’s Town opgegrawe, minus die kop en een arm. Daardie beeld is in 1957 net so in sy beskadigde toestand agter die replika opgerig.

Kroonstad, Vrystaat (tweede oudste taalmonument): In Hillstraat, Jukskeipark. GPS-koördinate: S 27° 39.672', O 27° 14.857'.

alt 
Die monument is in 1959 opgerig tydens die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge) se landwye taalfees as deel van sy dertigjarige bestaansvieringe. Dit bestaan uit ʼn oop Bybel van graniet met die woorde “Die Wonder van Afrikaans 1959” daarop. Die Bybel lê op ʼn vierkantige granietblok, wat rus op ʼn voetstuk van gemesselde granietklippe. Voor op die granietblok is die embleem van die SAJR (Suid-Afrikaanse Jukskeiraad) en op ʼn granietplaat aan die voetstuk is die inskripsie: “Opgerig deur die Jukskeispelers van Griekwaland-Wes. Onthul deur neef Ferdie van Rensburg 28.3.1960.” (Neef is voorheen in jukskei-kringe gebruik as aanspreekvorm vir ’n manlike persoon.)

Welkom, Vrystaat (derde oudste taalmonument): In Araratweg, Van Riebeeckpark, tussen Heerenstraat en Staatsweg (die M4). GPS-koördinate: S 27° 58.785', O 26° 44.600'.

alt 
Die monument is ook in 1959 opgerig tydens die FAK se landwye taalfees. Leon Roodt was die argitek; die ontwerper was Gerhard Olivier; Laurika Postma was die beeldhouer van die bronskopstuk met sy fakkel; en HL Joubert het die gietwerk gedoen. Die boukontrakteur was mnr Stapelberg en die boukoste was R6 000.

Die 3,7 m hoë gedenkteken, in die vorm van ʼn prisma, is in sy geheel saamgestel uit gelyksydige driehoeke. Die voetstuk is gebou van ruwe ysterklip uit die omgewing.

Die hoeksteenlegging is op 23 Mei 1959 deur die taalstryder prof DF Malherbe waargeneem, en by die onthulling op 20 Augustus 1960 het prof Malherbe, mev MM Jansen en prof S du Toit opgetree.

Die monument is in 1993 gedeeltelik verwoes in ʼn opsetlike ontploffing, maar is herbou deur die bemiddeling van die destydse burgemeester, Martin Louw.

Tydens die vieringe in verband met die Taaljaar, 1975, is ʼn hele aantal taalmonumente dwarsdeur die land opgerig:

WES-KAAP

Paarl: Gabbema Doordriftstraat, Paarlberg. GPS-koördinate: S 33° 45.9773', O 18° 56.5893'.

Die gedagte om ʼn monument vir die Afrikaanse taal op te rig, is op 14 Augustus 1942 geopper tydens die onthulling van ʼn gedenkplaat by die Dal Josafat-kerkhof naby die Paarl, ter ere van SJ du Toit, DF du Toit en PJ Malherbe, drie stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) wat daar begrawe lê. Dit het gelei tot ʼn openbare vergadering op 26 September 1942, waar die Afrikaanse Taalmonument¬komitee in die lewe geroep is.

In 1964 het die komitee ʼn kompetisie vir die ontwerp van die monument, wat op Paarlberg opgerig sou word, uitgeskryf en 12 argitekte genooi om deel te neem. Volgens die opdrag moes die monument van ver af sigbaar wees en onder meer die kulturele en staatkundige opbloei van Afrikaans uitbeeld.

Die ontwerp van die argitek Jan van Wijk is as wenner aangewys. Hy is geïnspireer deur die natuurlike omgewing en deur die skrywers NP van Wyk Louw en CJ Langenhoven se mooi beskrywings van Afrikaans. Die monument bestaan uit verskillende suile en koepels wat die groei en ontwikkeling van Afrikaans voorstel, en terselfdertyd erkenning gee aan die drie kontinente waaruit die taal gebore is. Die woorde “Dit is ons erns” is in die plaveisel by die aantrede tot die monument aangebring.

Bouwerk het vanaf 1972 tot 1974 geduur. Die monument is opgerig deur ATM Konstruksie, ʼn konsortium bestaande uit Murray & Stewart (Boland) en Holtzhausen & Hugo. Die betonmengsel waarmee die monument gebou is, het bestaan uit sement, wit sand en Paarl-graniet.

Die monument is in 1975, honderd jaar na die stigting van die GRA, ingewy. Meer as 40 000 mense het die inwyding bygewoon.

Touwsrivier:

alt
ʼn Kompetisie is vir die ontwerp van die taalmonument uitgeskryf, en dit is gewen deur ds Brand, toentertydse sendeling op die dorp. Die monument, ʼn eenvoudige gedenknaald op ʼn baksteen voetstuk, stel die verskillende fases van die groei van Afrikaans voor en is op 27 Maart 1976 oorhandig.

Worcester: In die Tuin van Herinnering op Kerkplein. GPS-koördinate: S 33° 38.6202', O 19° 26.5916' .

alt

Dit is ʼn brons gedenknaald met ʼn fakkel bo-op en het geen inskripsie nie, slegs ʼn oop boek gegraveer op die band van die fakkel. Dit is in 1975 onthul.

OOS-KAAP

Oos-Londen:     Op die terrein van die Laerskool Kuswag, op die pad na die lughawe. GPS-koördinate: S 33º 02.223', O 27º 50.917'.

alt
Die monument is op 19 September 1975 onthul, as deel van die taaljaarvieringe wat drie dae geduur het. Dit het saamgeval met die aankoms van die taalfakkel op die fakkelroete na die Paarl. Daar is twee granietsuile; die een lees: “1975, O moe¬der¬taal, O soetste taal, Jou het ek lief bo alles”, die woorde van digter CF Visser. Die kleiner een dra die woorde: “GRA 1875”. Die twee suile word verbind deur staalpype wat die invloed van die GRA (Genootskap van Regte Afrikaners) op die groei van die taal uitbeeld. Albei suile wys na die vlagpaal, wat die Republiek van Suid-Afrika versimboliseer.

 

VRYSTAAT

Petrus Steyn: Dirkie Uys skoolterrein, op die hoek van Reitz- en Kerkstraat. GPS-koördinate: S 27º 38.871', O 28º 07.778'.

Hierdie monument bestaan geheel en al uit ronde klippe wat in verskillende vorme vasgemessel is. In die middel daarvan, tussen die twee geronde suile, is ʼn vierkantige blok met ʼn gedenkplaat met die inskripsie: “14 Augustus 1875, Die Afrikaanse Taalfees, 14 Augustus 1975”.

Reddersburg: Op die dorpsplein, langs Van Riebeeckstraat (die N6- nasionale pad), op die hoek van Boshoffstraat; GPS-koördinate: S 29º 39.257', O 26º 10.626'.

Hierdie gedenkteken bestaan uit ʼn gedenkplaat onder ʼn wapen met die leuse “Geloof en arbeid”. Die inskripsie op die gedenkplaat lui: “Afrikaanse Taalfees Reddersburg, Sept 1975, Ons taal ons trots.”

Reitz: Voor die NG moederkerk.

alt
Hierdie gedenkteken bestaan uit ʼn koper gedenkplaat aangebring teen die kant van ʼn monument wat ook ander aspekte van die Afrikanergeskiedenis gedenk. Die woorde op die gedenkplaat lui: “Ter herdenking aan die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners, 14 Augustus 1875 in die Paarl, Ons bring hulde aan die eerste taalstryders, Onthul deur die burgemeester, rdl. PJ Geyer, Reitz, 30 Augustus 1975.”

Ventersburg: Op die terrein van die openbare biblioteek. GPS-koördinate: S 28° 05.1425' , O 27° 08.2153'.

Die monument, ʼn driehoekige marmersteen op ʼn voetstuk van sierstene, is op 14 Augustus 1975 onthul. Die burgemeester van Ventersburg, dr M Vogel, en ʼn plaaslike onderwyser, P Theron, was die hooffigure gemoeid met die oprigting van die monument, wat gebou is deur Dirk Brits.

GAUTENG

Johannesburg: Op die terrein van die Universiteit van Johannesburg (destyds die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU)).

alt
ʼn Monument wat bestaan uit drie granietrotse vanaf Paarlberg is op 12 Augustus 1975 onthul. Die inskripsie daarop is “Smal swaard en blink”, woorde waarmee die Afrikaanse skrywer NP van Wyk Louw die taal beskryf het.

LIMPOPO

Louis Trichardt: Op ʼn plein direk suid van die NG kerk, langs Erasmusstraat, tussen Burger- en Kroghstraat. GPS-koördinate: S 23º 02.536', O 29º 54.433'.

alt
Die monument bestaan uit ʼn groot rots wat met ʼn punt na bo in die grond geplant is, met ʼn gedenkplaat op ʼn voetstuk van bakstene daarteen. ʼn Kaart met die buitelyne van Suid-Afrika is op die gedenkplaat aangebring, met in die middel daarvan ʼn afbeelding van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl en die naam Louis Trichardt daarbo. Die inskripsie op die gedenkplaat lui: “AFRIKAANS, ons pêrel van groot waarde, Opgerig deur die Soutpansbergse Afrikaanse Sakekamer, 10 Oktober 1975, ter herdenking van die stigting van die GRA in 1875.”

MPUMALANGA

Belfast: In Steven Masango Rylaan, tussen MacDonald- en Van Riebeeckstraat. GPS-koördinate: S 25° 41.628', O 30° 02.287'.

Die monument bestaan uit ʼn granietrots met ʼn gedenkplaat daarop. Op die gedenkplaat is die afbeelding van ʼn fakkel en die woorde: “Afrikaanse Taaljaar 1875-1975, Opgerig ter herdenking aan die Genootskap van Regte Afrikaners, Die hartslag van ʼn volk bepaal die lewensterkte van sy taal, Onthul deur die burgemeester, raadslid CJ Kriek tydens die fakkelloop, Belfast, 19 Augustus 1975, Geskenk deur Impala Graniet Werke, Brits.”

Ermelo: Voor die NG kerk tussen Jan van Riebeeck- en Kerkstraat, langs Joubertstraat; GPS-koördinate: S 26° 31.263', O 29° 59.062'.

alt
Die monument bestaan uit ʼn ruwe, ronde granietrots wat op ʼn gepoleerde, vierkantige basis staan. Aan die voorkant van die rots is ʼn gepoleerde gedeelte met ʼn inskripsie wat lui: “Afrikaans 1875-1975, Brug na die toekoms, Die Taalfakkels 1975-09-02, Onthul deur Mnr L Rive Hoof-Voors ATKB, Geskenk deur Die Voortrekkers, Ermelo.”

Ohrigstad: ʼn Gedenkplaat by die Geloftefeesterrein ongeveer 4 km buite die dorp langs die R36-pad na Hoedspruit, net voor die R555-afdraai na Burgersfort. GPS-koördinate: S 24º 43.240', O 30º 34.159'.

Die gedenkteken bestaan uit ʼn betonblad met voetspore daarin en ʼn gedenkplaat langsaan met ʼn inskripsie in Afrikaans en Engels, wat in Afrikaans soos volg lui: “Taalfeesviering 16 Augustus 1975, Ohrigstad, Voetspore van draers van CP Hoogenhout-fakkel op eerste skof na Paarl vir onthulling van Afrikaanse Taalmonument op 10 Oktober 1975.”

* Kan iemand ons dalk help met die oorspronklike Engelse teks (wat onleesbaar is op ons foto)?

NOORDWES

Delareyville: Op Strijdomplein langs die munisipale kantore. GPS-koördinate: S 25° 45.752', O 26° 68.581'.

alt       
ʼn Gestileerde granietmonument met aan die voorkant daarvan die wapen van die SA Junior Rapportryers; daaronder die opskrif “Afrikaans 1875-1975” en nog laer af, net bokant die trapvormige voetstuk, die woorde “14.9.1976 Rapportryerskorps”.

Lichtenburg: Die monument staan voor die munisipale kantoor.

alt
Dit is in 1975 onthul, deur die bemiddeling van die Rapportryers. Dit is in die vorm van ʼn oester, met ʼn pêrel daarin, wat “Afrikaans, ons pêrel van groot waarde” (die woorde van nog ʼn ikoniese Afrikaanse skrywer, CJ Langenhoven) versimboliseer. Die oester se rand is uit siersteen, en die skulp sowel as die pêrel was met glasmosaïek in verskillende skakerings van wit oorgetrek om ʼn pêrel in sy skulp uit te beeld. Langenhoven se woorde is in geelkoperletters rondom die bal aangebring.

Laurentius van Rouendal het die monument ontwerp, en dit is gebou deur Hennie Zietsman, destydse meesterbouer van Lichtenburg. Die brons kunswerk bo-op (twee hande) is deur beeldhouer Hennie Potgieter ontwerp en laat giet. Die onthulling is waargeneem deur Koos Badenhorst.

Die monument verkeer tans in ʼn verwaarloosde en gevandaliseerde toestand.

Erkenning

Dankie aan die volgende persone wat inligting en foto's verskaf het: JJ Brand, J Claassen, M Louw, H McCabe, S Rhode, R Theron, L van Rouendal, E van Vuuren, C Yates en E Zietsman.

Spesiale dank aan dr J Grobler van die Universiteit van Pretoria vir 'n groot hoeveelheid inligting en foto's. (Foto’s van die monumente op Burgersdorp, Kroonstad, Belfast, Ermelo, Ohrigstad, Delareyville, Petrus Steyn, Reddersburg en Reitz: kopiereg J Grobler.)

Bronne

Biermann, B, Ons monumente, SAUK: g.p., 1966.
Grundlingh, A & S Huigen, Van volksmoeder tot Fokofpolisiekar: Kritiese opstelle oor Afrikaanse herinneringsplekke, Sun Press: Stellenbosch, 2008.
Swart, MJ, Afrikanerbakens, FAK: Aucklandpark, 1989.
Van Tonder, JJ, Monumente, standbeelde en gedenktekens langs die pad van Suid-Afrika, g.u.: Krugersdorp, 1977.

Elektroniese bron

Google Earth 6.0.2 Out of Beta, Google Inc., 2010, http://earth.google.com.


Einde
Medianavrae kan gerig word aan Isabeau Botha by Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien of tel. 021 872 3441 / 076 017 6026.

 
Nuusbrief
Soekfunksie
facebooktwittet
tel: +27(0)21 872 3441